PRESS OFFICE
LISTING
Homenewsabout usContact UsWebsite
News

2017 Pendoring-beoordelaars gesoute reklameskeppers

Inskrywings vir die 2017 Pendoring Reklametoekennings vir die bevordering en bekroning van voortreflike inheemsetaal-reklame, gaan weer eens deur die room van Suid-Afrika se skeppendes beoordeel word.
Louis Enslin
Louis Enslin
Richardt Strydom
Richardt Strydom

“Pendoring streef elke jaar daarna om die hoogste beoordelingstandaarde moontlik te handhaaf, dus nooi ons gesoute skeppendes wat hulself almal op hul onderskeie reklameterreine bewys het. Vanjaar is geen uitsondering nie,” sê Pendoring-hoofbestuurder, Franette Klerk.

“Aangesien Pendoring uitnemende bemarkingskommunikasie in al Suid-Afrika se inheemse tale vier en beloon, is die verteenwoordigende paneel goed toegerus om werk in al dié tale (Engels uitgesluit) te takseer en te beoordeel,” voeg sy by.

Louis Enslin, spesialis-radiobeoordelaar en eienaar van Produce Sound, sê radio-advertensies wat ’n omvattende “pakket” bied – goeie kopie, goeie uitvoering en ’n goeie klankbaan, is ooglopende wenners.

“Algemeen gesproke, ten opsigte van kopie en uitvoering, is die gehalte van Suid-Afrika se radio-advertensies uitstekend. Die groot aantal toekennings vir Suid-Afrikaanse radiowerk op die Cannes-reklamefees getuig deeglik hiervan.

“Skeppendes moet egter in gedagte hou dat die konseptualisering, skepping en vervaardiging van gehalte-radiowerk tyd verg. Daar is geen kortpad nie: hulle moet genoeg tyd en aandag bestee as hulle wenwerk wil skep,” is sy raad.

Ten opsigte van studente-inskrywings “het ʼn kombinasie van ’n eenvoudige insig en vlymskerp uitvoering die beste kans om beoordelaars se guns te wen”, beklemtoon Richardt Strydom, spesialis-beoordelaar van studente-inskrywings en inhoudshoof, Breinstorm Brand Architects. “Werk wat spreek tot die teikenmark op ’n relevante, dog kreatiewe wyse en wat eg Suid-Afrikaans is, sal verder die knoop deurhak,” voeg hy by.

Strydom sê voorts die studente-afdeling “lei elke jaar tot ʼn lewendige debat en ek hoop dit sal só bly. En elke jaar is daar beide uitstekende en swak werk. Die goeie inskrywings staan hul plek vol en sou maklik in die praktyk kon geld.”

Sy boodskap aan studente is eenvoudig: “Waag! Moet nooit veilig speel nie, maar staaf jou moed met uitstekende redigering en afwerking.”

Radio- en studente-inskrywings het verlede jaar beduidend toegeneem teenoor die vorige jaar. In die studentekategorieë is altesaam 80% meer inskrywings van tersiêre instellings ontvang vergeleke met die vorige jaar. Daarbenewens het die getal radio-inskrywings ook verdubbel teenoor die vorige jaar. Boonop het die radiokategorie verlede jaar albei Umpetha-wenners opgelewer.

Die beoordeling vind van 6 tot 8 September 2017 by Mediapark, Auckland Park plaas.

Die 2017 Pendoring-beoordelingspaneel

Wynand Botha, Skeppende hoof, Abnormal Group

André de Wet, Groephoof: Kopieskrywer, FCB Kaapstad

Nerine Gardiner, Senior kopieskrywer, Ninety9cents Communications Jhb

Pepe Marais, Groep: hoof skeppende beampte, Joe Public

Neo Mashigo, Skeppende vennoot, M&C Saatchi Group

Vumile Mavumengwana, Skeppende hoof/ontwerper, VM DSGN

Nkgabiseng Motau, Medestigter & Skeppende Hoof, Think Creative Hub

Annette Nel, Uitvoerende skeppende hoof, Baie-Lingual Concepts

Veli Ngubane, Hoof skeppende beampte, AVATAR

Mariana O’Kelly, Uitvoerende skeppende hoof, Ogilvy & Mather Jhb

Sibusiso Sitole, Uitvoerende skeppende hoof, The Odd Number

Willie Struwig, Skeppende hoof, Publicis Machine

Melusi Tshabalala, Uitvoerende skeppende hoof, Studio 214

Marius van Rensburg, Uitvoerende skeppende hoof, Ninety9cents Communications Kaapstad

Carl Willoughby, Uitvoerende skeppende hoof, Openco

Spesialis-beoordelaars

Louis Enslin (Radio), Eienaar/Ingenieur, Produce Sound

Richardt Strydom (Studente), Inhoudshoof, Breinstorm Brand Architects

Alle werk wat van 1 Augustus 2016 tot 31 Julie 2017 kommersieel gepubliseer, aangekondig of uitgesaai is, kan ingeskryf word. Skryf aanlyn in by www.pendoring.co.za.

Die finale sperdatum is Dinsdag, 8 Augustus 2017.

Die finaliste word Dinsdag, 19 September 2017 bekend gemaak, en die wenners tydens die glansryke bekroningsaand op 27 Oktober 2017 by Vodacom World in Midrand.

  • Die algehele wenners van die Prestige- and Umpetha-toekennings stap elk weg met ’n kontantprys van R100 000, wat ’n oorsese studiereis behels.
  • Elke goue wenner ontvang R6 000 kontant en silwer wenners R2 500 elk.
  • Goue vernufwenners ontvang elk R3000.
  • Vir die algehele studentewenners is daar R20,000 op die spel: R10,000 vir die wenner van die beste Afrikaanse werk, en R10,000 vir die wenner van die beste werk in ’n inheemse taal.
  • Die adverteerder van die ontvanger van die Prestige-toekenning ontvang gratis lugtyd ter waarde van R550,000 van kykNET.

Sluit aan by die Pendoring Facebook-groep of volg @Pendoring_ op Twitter en gebruik die hutsteken #Pendoring2017.

21 Jul 2017 12:32

<<Back