PRESS OFFICE
LISTING
Homenewsabout usContact UsWebsite
News

Afrikaanse reklame: belangrike skakel in die Afrikaanse ekostelsel

'n Televisie-, gedrukte of radio-advertensie is méér as net 'n mooi prentjie. Dit moet met die teikenmark praat, en deur met 'n gemeenskap in sy huistaal te kommunikeer, is een van die beste maniere om dit te doen.
Karen Meiring, hoof van Afrikaanse kanale op M-Net, wat kykNET, kykNET & kie en kykNET musiek insluit – vanjaar 'n platinumborg van die Pendoring-reklametoekennings: “Jy praat met die hart en siel van 'n gemeenskap deur sy taal en kultuur. Taal dra by tot die inhoud se resonansie en relevansie en dít is wat 'n adverteerder wil bereik.”
Karen Meiring, hoof van Afrikaanse kanale op M-Net, wat kykNET, kykNET & kie en kykNET musiek insluit – vanjaar 'n platinumborg van die Pendoring-reklametoekennings: “Jy praat met die hart en siel van 'n gemeenskap deur sy taal en kultuur. Taal dra by tot die inhoud se resonansie en relevansie en dít is wat 'n adverteerder wil bereik.”

"Wanneer 'n mens 'n gemeenskap nader en iets van hom verwag, dan moet jy teenwoordig wees in die taal van daardie gemeenskap," verduidelik Karen Meiring, hoofvan Afrikaanse kanale op M-Net, wat die platinum-Pendoringborg kykNET insluit.

"Jy praat met die hart en siel van 'n gemeenskap deur sy kultuur en taal. Taal dra by tot die bemarkingsboodskap se resonansie en relevansie en dít is, per slot van rekening, wat 'n adverteerder wil bereik."

Deur deel te wees van die Pendoring-reklametoekennings is op langtermyn in kykNET se belang. "Sterk en volhoubare Afrikaanse reklame is belangrik. Afrikaanse televisie-advertensies is integraal deel van die Afrikaanse ekostelsel en solank as wat 'n taal kommersiële waarde het, bly dit volhoubaar."

Afrikaanse televisie-advertensies is goed vir die kanale, hul kykers en Afrikaanse adverteerders. "Ons weet dat ons kykers in hul huistaal aangespreek wil word. Hul reaksie op Afrikaanse reklame is tot voordeel van die handelsnaam aangesien dit die lojaliteit van die Afrikaanse gemeenskap meebring."

kykNET verteenwoordig die kultuur, belange en passie van Afrikaanssprekende kykers en kykers wat Afrikaans verstaan. "Afrikaans is ons fokus en kernbesigheid. Ons dien 'n mark wat TV tuis, in sy eie taal wil sien," sê Meiring.

Ja, Afrikaanssprekendes verstaan Engels. "Maar Afrikaans is 'n handelstaal. Afrikaanse musiek is byvoorbeeld die beste verkoper in die land se musiekbedryf. Kortom, Afrikaanse gemeenskappe ondersteun Afrikaanse produkte - hulle woon feeste, teaterproduksies, musiekaanbiedings en rolprente by, luister radio en kyk TV in Afrikaans.

"Daar moet onthou word dat kykNET nie net 'n kanaal is nie; dit is deel van 'n Afrikaanse leefstyl. Op sigself is ons een van die grootste adverteerders in Afrikaans, en ons ondersteun 'n aantal geleenthede wat skeppende werk in Afrikaans beklemtoon."

Een voorbeeld is die Pendoring-toekennings. "Die Toekennings bly belangrik, nie net vir die kanaal nie, maar vir die Afrikaanse gemeenskapin sy geheel juis omdat dit handelsname aanmoedig om met hul gehoor in sy eie taal te kommunikeer.

"Hoewel ons verstaan dat dit nie altyd, om verskeie redes, moontlik is nie, byvoorbeeld weens die resessie, kan die voordele van kommunikasie met 'n gemeenskap in sy eie taal nie onderskat word nie."

Afrikaanse landsverlaters laat byvoorbeeld nie hul taal agter nie. kykNET het twee kanale in Brittanje - kykNET Internasionaal en kykNET Musiek op die You View TalkTalk-platform.

Waar die wêreld nou een van die opwindendste tydperke ten opsigte van die digitale ruimte betree, behoort daar geen verskoning te wees nie. "Dit word 'n baie meer koste-effektiewe manier om materiaal vir die Internet te skep en daar te adverteer. kykNET het'n uitstekende digitale teenwoordigheid en sy Internet-aanbod word baie goed deur die Afrikaanse gemeenskap ondersteun."

Die Pendoringtoekennings vind op 24 Oktober by Vodacom world, Midrand, in Gauteng plaas. Inskrywings vir advertensies en veldtogte wat van 15 Julie 2013 tot en met 21 Julie 2014 verskyn het of uitgesaai is, is oop en sluit op 21 Julie 2014.

Pendoring wil graag die volgende borge bedank: Platinum: Ads24, ATKV, kykNET en Media24. Goud: Die Burger, Huisgenoot, Rapport en Toyota. Brons: Caxton-gemeenskapskoerante, Jacaranda FM, MyEdit, OFM en Sanlam. Vennote: Adlip, DEKAT, eVati, kulula.com, Leopard's Leap Wines, Marklives.com, Newsclip en Sonovision

30 Jun 2014 12:10

<<Back